Dalpark Kaléo Gemeente
Kaleo Dalpark Gemeente

Ankers: 2005-2010

Elke mens het lesse wat jy in die lewe geleer het. Sommige van hierdie lesse, staan bo die vele ander lesse uit en dien as ankers vir jou in die lewe.

Partykeer is dit omdat dit ‘n “duur les” was -  wat jy selfs al weggewens het -  ander kere is dit omdat dit ‘n wonderlike les van God se seën en getrouheid was.  Ongeag die agtergrond van hierdie “ankerlesse”, is dit lesse waarna jy telkens teruggryp in moeilike tye. Dit dien vir jou as anker en gee weer vir jou perspektief op dit wat voorhande is.

Net soos elke mens sulke “ankerlesse” het, net so het elke gemeente “ankerlesse” 
wat ons al op ons reis met God geleer het.

Hierdie is Dalpark se “ankerlesse” van 2005-2010

'n Golf van vernuwing.

Van einde 2004 tot middel 2006 beleef ons ‘n golf van vernuwing in ons gemeente. Baie dinge waarvoor vorige leraars hard gewerk het kom vanself, sonder dat die twee nuwe leraars enige aanvoerwerk hoef te doen. Die tyd is ryp om die liturgiese ruimte te verander, en groot besluite word geneem omtrent die musiekstyl in Dalpark gemeente. Na ‘n deeglike ondersoek in 2006 waar elke lidmaat ‘n sê kon sê oor musieksmaak, is daar met ‘n oorweldigende meerderheid besluit dat Dalpark voortaan ‘n kontemporêre musiekstyl sal hê. As gemeente verbind ons ons egter  aan mekaar, en belowe ons mekaar dat ons mekaar in ag sal neem met ons gemeente se musiekstyl.

In hierdie tyd kom ons sterk onder die indruk hoe vorige leraars se harde werk en baie gebede, selfs eers jare daarna vrug afwerp. Ons ervaar ook eerstehands wat dit beteken om mekaar te vertrou in die pad van vernuwing.


Die planting van uitreike.

Die tienerbediening lê sterk klem sedert 2004 daarop om na buite te leef. Een keer per maand is daar ‘n UitreikSondag waartydens daar in die middag na hospitale en/of ouetehuise uitgereik word.

Op dieselfde UitreikSondag is daar na afloop van die jeugdiens ‘n gebedsreis wat onderneem word deur die dorp. Die sin en vreugde wat mens ervaar wanneer jy na ander uitreik, maak dat daar telkens met elke UitreikSondag tussen 40-60 tieners die sendingveld ingestuur word.

In hierdie tyd vind daar ook ‘n bou-uitreik plaas na afgeleë gemeenskappe rondom Bergville om kerkies van plaaslike gemeenskappe te herstel. Hierdie uitreik word meegemaak deur ‘n groot getal volwassenes.

Kort daarna word daar ‘n uitreik geplant na Botswana. ‘n Groot getal volwassenes sit vir verlof in, en ‘n groot getal tieners offer ‘n skoolvakansie op om in die Junie/Julie skoolvakansie Boesmans van Jesus te gaan vertel.

In hierdie tyd leer ons dat die opdrag om mense van Jesus te vertel, die mees basiese opdrag van die Christendom is. Sou ons ongehoorsaam hieraan wees – sou ons ongehoorsaam aan die mees basiese bevel van die Nuwe Testament wees.


Groter geboue.

Ons gemeente bou in 2005 ‘n reuse kerksaal aan (met jeuglokale en ‘n vergrote kombuis) om meer effektief te bedien. Dit stel ons in staat om groot funksies by ons gemeente aan te bied, om kinder- en kleuterkerk gelyklopend met oggenderedienste te hou, en tienerdienste gelyklopend met aanddienste aan te bied.

Die bouprojek word in geloof doen, want al kon die gemeente te danke aan kundige bestuur van finansies, R900 000 spaar vir die bouery, is daar nogsteeds ‘n lening van R1,2 miljoen aangegaan.

Die inwyding van die kerksaal vind plaas op 4 November 2005. Soos voorheen in Dalpark se geskiedenis is die onthulling van die hoeksteen weereens profeties. Die Skrifverwysing op die hoeksteen lui: “Ps 81:11 Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee”.

Skaars ‘n jaar na die bouprojek is die lening van R1,2 miljoen gedelg! In hierdie tyd seën die Here vir Dalpark gemeente met oorvloedige finansies uit Sy hand. Ons het eerstehands gesien dat die Here vir ons gee wat ons nodig het in oorvloed! Aan God die Eer!


'n Roeping vir elke lidmaat.

Dalpark gemeente bied die “Doelgerigte lewe” kursus in 2005 aan. Vir ongeveer 7 weke word daar in eredienste en omgeegroepe gefokus op die feit dat elke lidmaat ‘n unieke roeping van God ontvang het.

Lidmate word opgeroep om hulself te verbind vir 7 weke aan ‘n omgeegroep, om hierdie waarheid in hul lewens te ontdek. Nadat die 7 weke verby is mag jy jou onttrek van die omgeegroep as jy sou wou, of jy sou kon aanbly.

Op daardie stadium was daar 12 bestaande omgeegroepe in Dalpark gemeente. Vir die duur van die kursus was daar 24 omgeegroepe. Na die 7 weke het net 5 omgeegroepe ontbind, met die gevolg dat Dalpark gemeente 19 omgeegroepe daarna gehad het. 

Maar belangriker nog – ons het in 2005 geleer dat God ‘n plan het vir elkeen van Sy kinders, en elkeen van Sy kinders geroep het vir ‘n besonderse taak – tot God se eer.


Om 'n lewe groter as myself te leef.

Waar ons in 2005 geleer het dat God ‘n roeping op elkeen van Sy kinders se lewens plaas, fokus 2006 op die aard van daardie roeping. Dit word gedoen deur die reeks “’n Lewe groter as myself”.

Lidmate word uitgedaag om ‘n lewe te leef wat groter is as net selfverryking. Ons roeping op aarde is nie om suurstofdiewe te wees nie, maar om ‘n verskil te maak met ewigheidswaarde.

Die tieners in ons gemeente is reeds ‘n geruime tyd vir die gemeente ‘n voorbeeld van hoe om uit te reik. Na aanleiding van die sukses van tiener-uitreike en die energie wat daardeur losgemaak word, word die volwassenes uitgedaag om net een keer by ‘n uitreik of diensgeleentheid betrokke te raak. Meer as 30 uitreike en diensgeleenthede word vir hierdie doel geskep. Verskeie lidmate verbind hulself na hierdie “eenmalige” blootstelling aan diens / uitreik, tot groter betrokkenheid.

Ons leer dat om ‘n lewe groter as myself te leef, groter vreugde inhou as ‘n selfgerigte lewe. Ons moet op ‘n praktiese manier Jesus se hande en voete in ‘n stukkende wêreld wees.


Pinkster 2006

Op Opstandingsondag – 16 April 2006 – het die Heilige Gees verskeie van ons lidmate begin lei op die “Pad na Herstel”. Die Heilige Gees sou vir die volgende 8 weke mense op ‘n besonderse manier begelei, om met jarelange sondes te breek. Hy het ook verkeie mense aangeraak en gehelp om van trauma van die verlede te herstel. Die reeks – “Pad na herstel” – het sy hoogtepunt bereik met Pinkster 2006.. Ons het in hierdie tyd geleer dat ons ‘n gebroke geloofsgemeenskap is, maar dat daar oorwinning in die Naam van Jesus is!

Oorwinningsbediening.

Na aanleiding van die werk wat die Heilige Gees tydens Pinkster 2006 in ons gemeente gedoen het, is die “Oorwinningsbediening” in ons gemeente van stapel gestuur. Die Oorwinningsbediening het spesialis ondersteuningsgroepe die lewe laat sien, en staan mense in hul nood en of swakhede by. Na lang en intensiewe opleiding vir die leiers, word die bediening geloots op 14 Sept 2006. Ons het geleer dat as die Kerk nie ‘n saak met die wêreld het nie, dan het God nie ‘n saak met die Kerk nie – want dan mis ons ons roeping!

Nuwe maniere van evangelisasie.

In 2007 wend die gemeente ’n daadwerklike poging aan om ons gemeenskap meer effektief te bereik met die evangelie. Vanweë die misdaad in ons gebied, word huise omring deur hoë heinings en deur-tot-deur evangelisasie word by die dag al moeiliker. Daarom moet daar nuwe maniere gevind word om ons mense te bereik.

Tydens die Paasfees van 2007 word die gemeente daarom uitgedaag om ’n geskenkpak aan iemand uit te gee. Die geskenkpak bevat verskeie materiaal om mense in hul verhouding met die Here te begelei.

Beide Ds Hennie en Ds Nati het met die hulp van Oliver Produksies ’n DVD gemaak wat mense in hul reis met die Here kon begelei. Jare later sou Dalpark nogsteeds getuienisse inkry van mense wat spesifiek deur hierdie DVD aangeraak is. Ook Dr Isak Burger kom tree by ons gemeente as deel van die projek op, en ’n volgepakte kerk word weer voor ’n keuse vir Jesus gestel.

As gemeente leer ons in hierdie tyd dat ons altyd aan innoverende maniere moet bly dink hoe ons mense met die evangelie kan bereik.

Dalpark betree die kuberruimte.

As deel van bogenoemde projek, word die gemeente se webblad in 2007 geloots. Dit moes dien as ’n forum waar gemeentelede maklik inligting kon bekom – maar dit moes ook ’n plek wees waar “besoekers” in die veilige ruimte van hul huis, die gemeente eers kon leer ken.

Sedert 2007 het ons gemeente se webblad aansienlik gegroei, maar dit is vir ons ’n spesiale jaar omdat ons gemeente grondgebied in die Kuberruimte gewen het! Ons bevestig hiermee dat ons ’n vernuwende gemeente wil wees wat ook in veranderde tye mense kan bereik.


Die Here se hart vir heelheid.

Elke jaar in September sonder die leraars hul af om by die Here leiding te kry vir die volgende jaar se beplanning. Tydens die “retreat” van September 2007 in die Bosveld, kom die leraars sterk onder die indruk van die Here se hart vir mense se heelheid.

Jesus het nie net gekom om mense van hul sondes te verlos nie, maar ook om hulle ’n lewe van oorwinning en heelheid te laat leef. Ons gemeente sou voortaan poog om mense nie net in hul geestelike lewe by te staan nie, maar ook in elke sfeer van hul lewe. In die maand wat volg word navorsing gedoen en verskeie prosesse ondersoek hoe ons meer effektief mense kan bedien na heelheid. ’n Direkte uitvloeisel hiervan is dat die gemeente in 2008 ’n sielkundige sou aanstel.


Geklee met geregtigheid.

Een van die wonderlike dinge van Ds Hennie en Ds Nati se medeleraarskap is dat die Here menige kere die dieselfde dinge in beide se harte, onafhanklik van mekaar kom bevestig.

Die belangrikste voorbeeld hiervan is naamlik 2 Kor 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Sedert 2007 onderrig die Here ons in wat dit beteken om met Christus se geregtigheid voor die Vader geklee te wees. Lering oor geregtigheid vorm sedertdien die inhoud van preke en preekreekse. Dit is byna asof mens nooit die bodem kan peil van hierdie diep geestelike waarheid nie!


"Saam is ons beter"

September 2008 is sekerlik ’n baken vir elke gemeente in Brakpan. Vir die eerste keer pak al die NG Gemeentes asook AGS-Wes gemeente ’n kursus saam aan. Vir 40 dae sou elkeen van hierdie gemeentes dieselfde preke, omgeegroepmateriaal en daaglikse Bybelstudies hanteer.

Dit was ’n reeks uit die pen van Rick Warren getiteld “Saam is ons beter”. As gemeentes wou ons doelbewus ons eenheid in Christus verklaar, en dit het verreikende gevolge gehad.

Ons eenheidsverklaring het in die geestelike realm weerklink en nuwe vriendskappe oor gemeentegrense is gevestig. Vir die eerste keer in jare is wantroue onder lidmate en leraars van die verskeie gemeentes afgebreek, en ’n nuwe lojaliteit as Christenfamilie gevestig.

Ons leer in hierdie tyd hoe kosbaar ons eenheid in Christus is. Al is ons baie divers en uiteenlopend, bly ons broers en susters van mekaar. 


Brakpan vir Jesus.

’n Paar maande voor die “Saam is ons beter” reeks (ongeveer April 2008), het die Here op ’n baie spesiale manier met ’n paar lidmate van Dalpark gepraat. Op ’n besondere wyse het Hy vir hierdie lidmate die verband gewys tussen ons dorp Brakpan en die verhaal van Israel soos opgeteken in die boek Nehemia.

Uit hierdie bonatuurlike ervaring ontstaan die “Nehemia-opdrag” wat dit hulle taak sien om ons dorp in gebed op te dra. Hulle sou veral van gebedsreise gebruik maak, en op simboliese wyse by ons dorp se “poorte” (ingange) kruise oprig en vir die mense van Brakpan bid.

Na afloop van “Saam is ons beter”, besluit Dalpark dat ons nie die “Nehemia-opdrag” mag kaap vir ons eie gebruik nie, en dat lidmate van die ander gemeentes ook hiervan moet eienaarskap neem.

Sedertdien het die Nehemia-opdrag ’n reuse inter-kerklike gebedsbeweging geword wat Dalpark se volle steun dra. Die Nehemia-opdrag se mikpunt is “Brakpan vir Jesus” – en hulle het ’n webtuiste met dieselfde titel gestig. Besoek dit gerus.

Die Here leer ons dat ons nie Sy werk mag beperk, of moet probeer reguleer nie. Juis deur dit vrye teuels te gee, groei dit en vermenigvuldig die impak. 


Die uitstuur van sendelinge.

As voorbereiding vir 2010 se evangelisasie moontlikhede, skop Dalpark in 2009 af met ’n reuse sendingprojek. Verskeie bekende predikers kom tree in Dalpark op, en druk die Groot Opdrag weereens op die gemeente se hart.

’n Groot sending EXPO word ook van stapel gestuur waar meer as 40 verskillende organisasies hul bedienings kom bekendstel. Meer as 600 lidmate verbind hulself om in 2009 by sending betrokke te raak! Op daardie stadium was dit nog die grootste mobilisering van mense wat Dalpark nog gesien het.

Kort na die projek, besluit die kerkraad in Maart 2009 om Tinus en Lana Els as sendelinge van ons gemeente uit te stuur. Dit was die eerste sendelingpaar wat die gemeente in jare uitgestuur het, en dit was ’n besonderse spesiale besluit.

Teen hierdie tyd het Dalpark al verskeie kere die Here se stem gehoor rondom ons sendingroeping, en hierdie was ’n bevestiging daarvan.


Eerste kamp vir huishulpe.

As deel van die sendingprojek van vroeër die jaar, onderneem ’n aantal lidmate om hulle huishulpe te borg vir ’n kamp vir huishulpe. In Maart 2009 realiseer hierdie kamp, en meer as 30 huishulpe maak Dalpark se eerste multi-kulturele kamp mee.

Die spreker was Ds Isaac Leputhla, en die kamp word met soveel entoesiasme begroet, dat besluit word om dit ’n jaarlikse kamp te maak.


40 Dae voor die kruis.

Die dorp se gemeentes wat die jaar tevore saam gewerk het met “Saam is ons beter”, besluit om ’n soortgelyke projek in 2009 aan te pak. Die aantal gemeentes wat sou deelneem het selfs intussen gegroei!

Die nuwe reeks sou gehou word gedurende die lydingstyd van 2009 en sou bekend staan as “40 Dae voor die Kruis”. Die reeks het in hierdie tyd oor die 7 Kruisuitsprake van Jesus nagedink.

Dit was ’n uiters kosbare reeks om saam as dorp oor Jesus se kruisdood en die gevolge vir ons, na te dink. Die reeks is gekenmerk met veral groei in geloofsekerheid van lidmate.


© Vir enige navrae kan jy die webmeester kontak by tegnies@dalpark-kaleo.org.za