Dalpark Kaléo Gemeente
Kaleo Dalpark Gemeente

Enel Lambrechts

1.  Waar is jy gebore en waar het jy grootgeword?

Ek is in Pretoria gebore, maar toe ek vier jaar oud is, het my ouers na Ficksburg, in die Vrystaat verhuis.  My ouers is nog steeds daar en ek het daar gematrikuleer.  

2.  Waar, wanneer en hoe het jy die Here ontmoet?

Dit is vir my moeilik om ‘n datum aan my ontmoeting met die Here te koppel – dalk omdat ek dit doen met die wete dat Hy my ontmoet het lank voor ek Hom ontmoet het.  Ek onthou tye as klein dogtertjie waar ek elke aand gebid het en Bybel gelees het, en hoe ek reeds van jongs af ‘n passie vir Hom in my voel borrel het.  

Tog glo ek dat daar rondom 16-jarige ouderdom ‘n geestelike verdieping in my lewe plaasgevind het.  Ek het God tasbaar in my lewe sien optree, ek het gesien hoe sy wonderkrag verandering in my lewe bring en ek het sy liefde en genade vir my leer ken. 
 
Picture
Picture

3.  Beskryf vir ons jou verhouding met die Here.

My verhouding met die Here is ‘n opwindende reis wat ek saam met Hom het, wat my dikwels tot verrassings lei.  God se genade, die manier hoe Hy met my werk, en my verstaan, sy krag en majesteit, verras my telkens.  Wanneer ek oor my alledaagse lewe nadink beself ek dat die ou kinderliedjie waar is:  “Ek wandel in die lig van God,” en sy goedheid en guns is op elke gebied van my lewe sigbaar.  Dikwels begin mense, en ek ook, so gejaagd raak dat ons hiervan vergeet.   Dis op  tye soos dié wat, soos daar in Klaagliedere staan, “sy liefde vir ons weer nuut word”, wanneer ons vir ‘n oomblik weer tyd saam met Hom spandeer. 

My persoonlikheid is van so aard dat enige vorm van roetine vir my moeilik is en dikwels frustrerend.  Dus word my verhouding met die Here ook nie gekenmerk met ‘n vaste roetine nie.  Daar kom soms dae wat ek baie tyd aan stiltetyd spandeer en ander dae minder tyd.  Tog weet ek dat Christus ons kom vry maak het en deel van daardie vryheid is om Hom in vryheid te kan dien en liefhê. 

Tye van gebed is die gemeenskap wat ons met God het.  In ‘n liefdesverhouding is daar verskillende vorms van kommunikasie:  Soms is daar vaste bestaande afsprake wat ‘n verbintenis is wat gemaak is om die verhouding te laat groei, maar meer dikwels is kommunikasie is ‘n aardse liefdesverhouding baie meer dinamies.  Die kommunikasie wat ons met God het, volg ook hierdie paadjie.  Dus is daar dikwels deur die dag goed waar ek net nie tot vanaand kan wag om my Vader te kan vertel nie, en ander kere is dit bloot kuiertyd, terwyl ek in die motor ry of ek alleen by die huis is.  

Picture

4.  Wanneer het jy die verste van God gevoel?

Dit gebeur soms dat jou lewe jou insluk.  Soms word die lewe 'n dolle gejaag na die volgende deadline.  Dit is op sulke tye wanneer ek ervaar dat ‘die Here nie meer weet wat in my lewe aangaan’ nie. 

Gelukkig word dit ook beleef te midde van ‘n vaste vertroue dat God nooit ver is nie, al voel dit so.  

5.  Wanneer het jy die naaste aan God gevoel?

Twee aspekte van my lewe laat my baie na aan die Here voel.  Die eerste is om vir Hom te werk.  Wanneer ek ervaar dat ek as’t ware ‘n kanaal kan wees vir God se liefde om deur my oor te spoel na die wêreld, en dan die verskil te sien wat dit maak in mense se lewe, laat dit my opnuut voel hoe lief God my ook het.  Ek hou daarvan om te sê:  “daar is niks so lekker soos om gebruik te word nie”, en wanneer ek so gebruik word, is dit tot eer van God en Sy Koninkryk. 

Die tweede aspek is om hom op ‘n emosionele vlak God te ervaar.  Dikwels, in verskillende oortuigings in die teologie verkry emosies óf al die klem óf geen klem wanneer dit weerspieël word as iets tydeliks  of nie-konkreets.  Tog glo ek dat daar ‘n balans kan wees waar God nie net emosioneel nie, maar ook nie glad nie emosioneel ervaar word nie.  Hierdie emosionele momente kan as gevolg van verskillende goed gebeur.  Die natuurskoon, ‘n gedig, ‘n teksgedeelte of die woorde van ‘n lied in lofprysing laat my dikwels besonder anby aan my Verlosser voel. 
 

6.  Wanneer het jy besluit om ‘n predikant te word?

In Graad 9 was die saadjie reeds geplant, alhoewel ek toe nog baie huiwerig was.  

7.  Hoe het jy geweet die Here roep jou?

Die Here praat op verskeie maniere met ‘n mens.  My roepingsbewustheid se saad is geplant as gevolg van dit wat ander mense vir my gesê het.  Dit is verder versterk deur eerstens ‘n innerlike vrede wanneer ek daaroor praat of dink en ook die intense begeerte wat ek al meer in my hart ervaar het om vir die Here te werk.  Ek het nooit gevoel dat ek belsuit om Teologie te gaan swot omdat God my dwing en ek nie regtig wil nie, dit was eerder so dat ek werklik gaan doen het wat my hart se begeerte is. 

In my Graad 10 jaar het ek werklik begin bid of Teologie die regte rigting vir my was, daar was baie omstandighede wat ek kon interpreteer na beide kante toe.  Een van my grootste kopsere was die vraag of ‘n vrou in die bediening werklik die ma in haar huis kan wees, omdat dit ook vir ‘n prioriteit is wanneer ek oor my toekoms dink.  Ek het, nadat ek een aand op die radio ‘n praatjie gehoor het oor hierdie onderwerp, vir die Here gevra om vir my finaal te sê of ek Teologie moet swot of nie, want ek wou rustigheid oor die saak hê.  Die Here het my bederf met ‘n innerlike vrede wat werklik onuitspreeklik groot is en was en verder ook het Hy my dit deur sy Skrif bevestig.  Die volgende oggend het ek my ouers en almal by die skool vertel dat dit is wat ek gaan doen en het nooit weer van plan verander nie.  

8.  Watter aspek van predikantwees geniet jy?

Sjoe, daar is so baie aspekte om op te noem! 

Ek geniet dit om te sien hoe God in mense se lewens werk.  Ek geniet dit wanneer ek iemand sien wie ek lank laas gesien het, en ‘n verandering in sy/haar geestelike groei opmerk.  Ek geniet God se wonders en se almag, en dan oorweldig die wonder om deel te wees van sy werk my al meer.  Dit is ‘n voorreg om by ander se geestelike lewens betrokke te kan wees, maar nog steeds te sien hoe God, onafhanklik van my, in hul lewens ingryp. 

Prediking is een van die aspekte wat ek die meeste geniet in die bediening.  Wanneer ek op ons verhoog staan en begin om die Goeie Nuus te verkondig voel dit vir my asof ek die werk van die Gees in my are kan voel druis, en dan oorval die vaste wete dat dit is waarvoor God my gemaak het, my elke keer.  Die preekmaakproses is elke week vir my opwindend en neem baie tyd in beslag, maar dit is altyd die moeite werd.  Dit is vir my heerlik om te hoor hoe God my woorde kan draai sodat mense op die ou einde iets heel anders hoor as wat ek aanvanklik vir hulle wou sê, en hoe dit dalk net die bemoediging kan wees wat God aan hulle wil gee. 

Wat my werk met die jongmense betref, geniet ek dit veral om te sien hoe jongmense werklik passievol lief is vir die Here en dit uitleef.  Dit is vir my lekker om name te leer ken en betrokke te wees in hul dag-tot-dag lewens, en om saam met hulle te journey saam met God.  

9.  Vir watter diensgroepe in die gemeente is jy verantwoordelik?

Ek het die spesifieke opdrag van Jeug.  Dit behels dat almal onder die ouderdom van 25 jaar deur my bedien word.  Hieronder sorteer Kinderbediening, Tienerbedieng en die jong volwassenes.  

10. Wat geniet jy spesifiek van Dalpark gemeente?

Die verskeidenheid van mense wat in Dalpark is, laat geen vervelige oomblik nie.  Waar ander gemeente dalk meer uit mense in ‘n spesifieke beroep, sosio-ekonomiese klas, of ouderdom is, bied Dalpark ‘n verfrissende verskeidenheid.  Dalpark is my eerste gemeente waar ek voltyds in die bediening is, en daarom is dit vir my moeilik om vergelykings te tref, maar ek geniet dit dat daar soveel samehorigheid is onder gemeentelede, dat verskille erken word, maar nie lei tot skade nie.  Verder dink ek dat Dalpark ook uniek is omdat ons ‘n relatief groot gemeente is, maar tog ‘n hegte gemeenskap is. 

Ek geniet my twee kollega’s!  Dit is ‘n groot voorreg om deel van ‘n gemeenskap te wees waar die waardigheid wat Christus vir ons kom gee het nie net lippetaal is nie, maar waargeneem kan word in ‘n personeelkorps se verhoudinge en dinamika.  

11. Sal vir ons ‘n bietjie meer van jou gesin vertel?

My ouers woon nog in Ficksburg, waar my ma die Skriba in die Kerkkantoor is, en my pa ‘n finansiële adviseur.  Ek is die middelkind van drie.  My jonger suster, Amanda, woon in Umhlanga en my ouer broer, Johan, woon in Bethlehem.  

12. Wat is jou stokperdjies?  Waarmee hou jy jouself besig as jy nie met gemeentewerk besig is nie?  

Die mense in my lewe is vir my baie belangrik.  As gevolg van die universiteit het ek ‘n vriendekring wat regoor Suid-Afrika bly en ons doen moeite om gereeld by mekaar uit te kom.  Sulke kuiers voed my siel en energeer my. 

Ek hou van goeie musiek, goeie rooiwyn, goeie sjokolade en goeie geselskap.  


© Vir enige navrae kan jy die webmeester kontak by tegnies@dalpark-kaleo.org.za