Dalpark Kaléo Gemeente
Kaleo Dalpark Gemeente

Ds Nico Smit

1.       Waar is jy gebore, en waar het jy groot geword?

Ek is eintlik ’n ou Oos-Rander. Ek is in 1992 gebore in die Unie hospitaal in Alberton en word groot in Primrose, Germiston. Ek is na matriek na die Universiteit van Pretoria én nou is ek terug in die Oos-Rand!

2.       Waar, wanneer en hoe het jy die Here ontmoet?

Die Here het my in my graad 2 vir die bediening geroep. Ek het een oggend wakker geword en besef sy roeping op my lewe is om sy Woord te gaan bedien. Op daardie stadium het ek nie geweet hoe nie, maar later het dit al hoe duideliker geword dat ek Teologie sou gaan studeer om binne die Koninkryk te werk. Daarmee meen ek nie dat alle mense nie bydra tot die Koninkryk nie, maar die voorreg is om ’n leraar van ’n gemeente te wees en saam met mense God te ontdek en saam mense te groei.

3.       Beskryf jou verhouding met die Here?

God is vir my nader as die volgende asemteug. Hy lewe in my en saam met my. Ek kan nie ’n dag sonder God indink nie. Prof. Johan Cilliers het gesê, die plek waar God nie is nie, is die hel. Ek is geneig om met hom saam te stem. God is vir my Vader, maar ook Vriend en sy Gees woon in my. Daarom is dit voorreg om gelowige te kan en mag wees. 

4.       Wanneer het jy die verste van die Here gevoel?

In my spreekkamer het ek al baie ver van God gevoel. As ek na mense se verhale luister ruk dit soms my diepste wese en dikwels as ek so in my spreekkamer sit het ek ver van God gevoel.

5.       Wanneer het jy nog die naaste aan die Here gevoel?

Ook in my spreekkamer. Daar is geen groter voorreg om te weet, nadat ek vir drie maande of meer saam met iemand ’n pad gestap het om te sien dat God hulle lewens kom verander het nie. Om te sien dat hulle in Christus nuwe mense word en die seer van die verlede kan los waar dit hoort... in die verlede.

6.       Wanneer het jy besluit om ‘n predikant te word?

Soos ek reeds vroeër geskryf het het God my reeds in graad 2 geroep. Ek het in graad 10 die besluit finaal gemaak dat ek dit wel gaan doen. 

7.       Hoe het jy geweet die Here roep jou?

Ek dink die Here roep mense op verskeie maniere. Party het ’n dag en ’n datum en ander word weer geleidelik geroep. Myne was ’n geleidelik roep na die bediening. Ek het nie ’n presiese datum of tyd of selfs ’n plek nie, al het ek vir God op so baie plekke ontmoet. Ek het verskeie Damaskus-ervarings gehad waar God kom bevestig dat Hy my roep.

8.       Watter aspekte van predikantwees geniet jy?

Ek geniet prediking baie en alles wat daarmee gepaard gaan. Veral die navorsing wat gebeur, voordat ’n persoon oorgaan tot preekskryf. Pastoraat lê my dan baie na aan die hart, so na dat ek ’n PhD daarin gaan voltooi. Ek sal nie sê ek geniet pastoraat nie -  want mense kom met hulle seer na jou toe en vertrou jou daarmee - maar dis bring vir my ’n vreugde om saam met mense ’n pad te stap en te kan help.

9.       Watter diensgroepe in ons gemeente is jy verantwoordelik voor.

Eerstens is ek leraar verantwoordelik vir pastorale versorging, saam met ’n baie bekwame span. Dan hanteer ek ook ’n spreekkamer vir die gemeente en nie-gemeentelede. Binne my spreekkamer hanteer ek gevalle rondom trauma, doodsberading, depressie, rou, huweliksprobleme, egskeidings, seksuele molestering, verkragting, vrae rondom geloof en God en gesinssamestelling.
Dan is ek voog vir die HOOP-bediening binne die gemeente, Seniorbediening, Bemoedigingbediening en die Vrouebybelstudie-groep

10.     Wat geniet jy spesifiek van Dalpark gemeente?

Die ontspanne manier waarmee die Gemeente ’n verskil in die gemeenskap maak. Die gemeente is ook gemaklik en vernuwend en dis ’n voorreg om deel van die span te wees by Dalpark. Dis heerlik om by mense te kom wat jou met ope arms ontvang en verwelkom.

11.     Sal jy vir ons asseblief ‘n bietjie meer van jou gesin vertel?

Ek is nog nie getroud nie (ek wil graag eendag trou). My ouers woon nog steeds in Primrose. Ma is ’n boekhouer vir ’n maatskappy in Sebenza en Pa werk al die afgelope 35 jaar by SAA as vliegtuiginspekteur. Ek het ’n jonger sussie, Leonie van 23 wat ’n onderwyseres is en reeds getroud is met Jaco, wat ook onderwyser is. Saam met dit is ek ook die oom van hulle kinders, Ilze en Althus. 

12.     Stokperdjies

Ek kuier graag saam met my gesin en vriende (wat nie beroep is na plekke regoor die land nie!). En ek is tans besig met my nuutste boek: ʼn Ster of twee. Daarmee saam hou ek daarvan om vervalle goed (wat al lankal op die ashoop hoort) reg te maak en te herstel. Ek kan getuig dat niks in my pastorie nuut gekoop is nie, behalwe sekere goed wat ek werklik nie tweedehands sal koop nie. Maar al my meubels is tweedehands en ek maak dit reg om by my smaak en huis in te pas.
Ek lees ook baie graag en skryf gereeld artikels vir verskeie tydskrifte. 

© Vir enige navrae kan jy die webmeester kontak by tegnies@dalpark-kaleo.org.za