Dalpark Kaléo Gemeente
Kaleo Dalpark Gemeente

Die ontstaansjare.

Picture
10 Vrae aan die stigtersleraar Ds Dirk Myburgh oor die ontstaan van ons gemeente.

1        Wanneer en van watter gemeente het Dalpark afgestig?
Dalpark het afgestig van Dalview gemeente in 1975.

2       Hoe het dit gebeur?
Aan die begin van 1975 het die kerkraad van Dalview die Ring van Brakpan gevra om 'n nuwe gemeente af te stig met die oog op die verwagte snelle uitbreiding van die bestaande gemeentegrense.

Ons was in Maart 1974 in Dalview gemeente ontvang as medeleraar van ds J G Bezuidenhout. Hy het toe reeds groot hoogtes in die gemeente bereik en het met sy deeglike huisbesoek en kragtige prediking elke Sondag voor 'n stampvol kerk opgetree. Ek kon dan vir meer as 'n jaar in hierdie toewyding en ywer van hom deel.

Hy en ek het as leraars saam besluit dat dit met die oog op getalle beter sal wees as ons so gou as moontlik kan afstig. Sommige lede van die Ring het besware gehad en was van oordeel dat ons oorhaastig is. Die afstigting het ten spyte van die besware tog plaasgevind op 1 Julie, l975. Dit het geblyk 'n goeie besluit te wees.


3       Wanneer is daar begin met die bouwerk van die kerk?
Die kerkraad van Dalview het besluit om liewer 'n kerkkompleks nader aan die middel van die te wagte uitbreidings te bou. Vir daardie doel is die pastorie in Hendrik Potgieterstraat 147 verkoop en 'n toe beskikbare erf van die staat gekoop - die grond waarop die huidige geboue staan.

Eers moes weer 'n pastorie gebou word. Tot tyd en wyl dit klaar was, moes die Myburghs as nuwe leraarspaar van Dalpark, eers nog in twee huurhuise woon voordat hulle in die nuwe pastorie kon intrek. Ten einde vir die gemeente geld te spaar, het die kerkraad besluit op ons versoek, dat ek en my vrou as eienaarbouers sal optree. Ons het self die basiese bouplan opgetrek, dit deur 'n argitek laat afrond en na die Stadsraad se goedkeuring met die bouwerk begin.

Nadat ons ingetrek het, het ons planne vir die bou van die kerk van bekende argitekte gekry. Uiteindelik is die planne van mnr. Koos Reynecke van Pretoria aanvaar. Met die bruidskat van die eerste pastorie van Dalpark, en met skenkings van die gemeentelede,is in 1976 deur 'n meesterbouer met die bouwerk begin.

Die hoeksteenlegging het op 26 Januarie 1980 plaasgevind en op 23 Augustus 1980 is die kerkgebou ingewy met 'n opkoms van omtrent 1000 lidmate van oral uit die Ring.



Picture
Picture
4       Hoeveel het die bouwerk destyds gekos?
Die erf waarop die kerk gebou is, is aanvanklik teen R9000 gewaardeer, maar teen die tyd wat die kerkraad gereed was om tot koop oor te gaan het die erf se prys al gestyg tot R18 500! Die boukoste sou ‘n verdere R185 000 kos. Dit was baie geld in daardie tyd!

Om dit in perspektief te stel: Die maandelikse dankofferinkomste van die gemeente was gemiddeld R1900 per maand en die gemeente kon ‘n goeie klanksisteem koop vir R190 en die kabinet waarin die klanksisteem gebêre sou word is teen R5 gebou!

Ons het daarom besluit om 'n polis uit te neem sodat die kerk na n verdere 10 jaar heeltemal betaal sal wees. Die polis is op die bestemde tyd uitbetaal.


5       Waar is daar vir tyd en wyl eredienste gehou?
Ons het toestemming van die Departement van Onderwys en die plaaslike skoolhoof, mnr Lourens Marais, gekry om ons dienste in die skoolsaal te hou. 

6       Uit hoeveel lidmate het die gemeente bestaan?
Toe ons afgestig het was ons ongeveer 220 lidmate.

7       Beskryf bietjie Dalpark in die dae van sy kinderskoene?
Daar het 'n besondere gees van samehorigheid en samewerking geheers. Min of meer elkeen was betrokke in een of ander werksaamheid van die kerk. So is 'n besondere band  van liefde en respek met elke gesin in die gemeente gebind.


Picture
8       Is daar staaltjies wat vir u uitstaan in u tyd by Dalpark?
Ja, 'n hele paar, maar sommige wat ek liewer moet verswyg omdat daar nog te veel sensitiwiteit omtrent sulke gevalle bestaan. Miskien kan ek hierdie een vertel . . .

Op 'n dag was my vrou besig om, met 'n paar vrouens wat haar gehelp het, die kerk reg te kry vir 'n funksie. Omdat my motor in die motorhawe vir herstelwerk was, was ek genoodsaak om by een van die susters om hulp te gaan vra. Freda Bruwer, wat net so onderkant die kerk gewoon het, gee toe vir my haar motor se sleutels en sê dat ek net die motorhuis moet oopmaak, uittrek en ry. Ek doen toe so, maar ek vergeet om vir haar moeder in die huis te sê dat ek die motor neem. Toe sy deur die venster sien daar ry iemand met haar kind se motor, spring sy telefoon toe om die polisie te bel. Sy kom toe nie deur nie en probeer die buurman. Hom kry sy ook nie. Sy stuur toe maar die bediende om gou vir die miesies te gaan sê dat haar kar gesteel is. Die bediende kom toe terug en rapporteer: Dis die Moruti wat die kar gesteel het! 

Die volgende is nie 'n staaltjie nie, maar miskien goed om te weet. Ek was om 1nm op pad huis toe vanaf die dorp toe ek by 'n robot daar naby skielik gedring voel om 'n sekere ou moeder wat by haar kinders inwoon, te gaan besoek. Toe ek aanklop, het die skoondogter, die vrou van die huis, die deur oopgemaak. Sy was soos 'n opgewende orrel: "Ds, ek het so pas van my dokter nuus gekry dat ek net nog ses maande het om te lewe. Waarom ek, ek wat nog maar veertig jaar oud is?" Na nog baie meer gepraat, kon ek uiteindelik vir haar sê: "Mevrou, dis nou vir my duidelik dat die Here my hierheen gestuur het en wel om vir u te sê moenie maak soos Petrus toe hy na Jesus toe geloop het in die stormsee nie. Die oomblik toe hy op die waters is en hy neem sy oë af van Jesus, het hy gesink, waarna Jesus hom gegryp het en hom sy ongeloof verwyt het. Mevrou, moenie nou na die storms kyk nie, kyk na Jesus. Dis die boodskap wat ek vir u moet gee. Kan ek vir u bid?

Ek het 'n gebed vir genesing gedoen en die Here het haar gespaar sodat sy vandag nog lewe. 

9    Op watter "geestelike fondamente" wou u as stigtersleraar Dalpark bou - wat u ook vandag  nog sou wou sien?       
Die redding van siele en die geestelike opbou van die gemeente, soos ek verneem dat dit daar die geval is. Dis wonderlik. Daar het ook 'n hele aantal geloofsversekering gekry in die tyd dat ek daar was . Ek het groot klem gelê op huisbesoek met afspraak soos deur die ouderling gereël is en hy my as dit moontlik was, ook vergesel het.

Ek het veral klem gelê op geestelike bearbeiding met my besoeke en in tye van nood, siekte dood of beproewing het ek persoonlike steun verleen. So is 'n besondere band met die gemeente gebind. Daar was ook nooit 'n tekort aan kerkraadslede nie, toe nog net mans. En as ek gevind het dat 'n kerkraadslid nie sy werk na behore gedoen het nie, het ek hom vriendelik gevra om plek te maak vir 'n ander. 

Vandag leef ons in tye wat dergelike huisbesoek bemoeilik en daar kan natuurlik ook met vrug gebruik gemaak word van ander manier om solidêr met die gemeente te wees. Met die voorbereiding vir die aflegging van geloofsbelydenis, kan elke katkisant natuurlik nog gekonfronteer word met die sekerheid van sy of haar geloof. Van wat ek verneem die huidige twee leraars daar doen, kan ek die Here net prys vir die groot vrug op julle arbeid.

10     Dink u dat Dalpark gemeente geroep is vir 'n taak in ons dorp?
Ja. Ek glo so, sonder om enige van die ander gemeentes en hulle leraars te na te kom. Bly net nederig aan die voete van ons Meester, volg getrou sy leiding en hou aan om arbeiders vir sy oes te werf en in die gemeente en die oeslande rondom ons en ook verder, arbeiders uit te stuur. Ek bid vir julle vir 'n lang en geseënde bediening.
© Vir enige navrae kan jy die webmeester kontak by tegnies@dalpark-kaleo.org.za