Dalpark Kaléo Gemeente
Kaleo Dalpark Gemeente

ONS SKOLEPROJEK

Vanaf Julie 2003 is ons gemeente op ‘n weeklikse basis prakties betrokke by ‘n kosprojek vir skole in Brakpan.
Elke Dinsdag tot Donderdag voorsien ons gemeente iets te ete aan die leerders wat deur personeel van die betrokke skole geidentifiseer is. In sommige gevalle is die huislike omstandighede só haglik, dat dit die enigste voeding is wat van die kinders in ‘n dag kry en dus is hierdie kosprojek vir ons gemeente ‘n groot prioriteit.

Oorspronklik het die projek afgeskop as 'n selgroepprojek, maar nie elke selgroep skakel outomaties by hierdie projek in nie. Tans bewillig die kerk weekliks 'n bedrag van R1300.00 waarmee 'n selgroep brode & smere, vrugte en soms ook 'n lekkertjie aankoop, toebroodjies voorberei en aflewer. 

Ons is opreg so dankbaar teenoor ALBANY vir hulle getroue ondersteuning in hierdie projek. ALBANY voorsien weekliks die vars bruinbrode vir elke week se toebroodjies wat  voorberei word.

Ons is innig dankbaar teenoor lidmate wat finansieel bydra tot hierdie projek. Hierdie bydraes word dan aangewend deur gebruik te maak van lidmate wat teen ‘n spesiale tarief toebroodjies voorberei en aflewering by die skole doen, wanneer dit nie vir 'n selgroep moontlik is om 'n beurt te neem nie. 
Tans is daar slegs ses selgroepe betrokke by hierdie projek, wat 'n groot las op die selgroepe plaas aangesien meeste selgroeplede werkende mense is.

Lidmate wat hulle harte en beursies oopgemaak het en hulle finansieel tot hierdie projek verbind het, se bydraes wissel vanaf ‘n jaarlikse eenmalige bydrae tot maandelikse bydraes tot kwartaallikse bydraes  d.m.v.  elektroniese oorbetalings of kontantbydraes wat tydens die erediens in die kollektesakkie geplaas word in 'n koevert duidelik gemerk vir die skoleprojek.

Ons het jou finansiële ondersteuning baie nodig, veral omdat die behoefte aan ondersteuning by die skole jaarliks groter raak..

Indien jy  sou belangstel om betrokke te raak, maar dalk eers net meer inligting wil bekom oor hierdie projek, kontak Frikka Reyneke, die koördineerder van hierdie projek, by 0837994872 of  011 9154872 of voltooi die onderstaande  vorm en sy sal jou kontak.

Stuur
© Vir enige navrae kan jy die webmeester kontak by tegnies@dalpark-kaleo.org.za