Dalpark Kaléo Gemeente
Kaleo Dalpark Gemeente

ONS SKOLEPROJEK

Vanaf Julie 2003 is ons gemeente op ‘n weeklikse basis prakties betrokke by ‘n kosprojek vir skole in Brakpan.
Elke Dinsdag tot Donderdag voorsien ons gemeente iets te ete aan die leerders wat deur personeel van die betrokke skole geidentifiseer is. In sommige gevalle is die huislike omstandighede só haglik, dat dit die enigste voeding is wat van die kinders in ‘n dag kry en dus is hierdie kosprojek vir ons gemeente ‘n groot prioriteit.

Oorspronklik het die projek afgeskop as 'n selgroepprojek, maar nie elke selgroep skakel outomaties by hierdie projek in nie. Tans bewillig die kerk weekliks 'n bedrag van R1000.00 waarmee 'n selgroep brode & smere aankoop, toebroodjies voorberei en aflewer. Sommige selgroepe se lede maak ook binne hulle kosbeurt ‘n finansiële bydrae om per geleentheid ‘n worsbroodjie, ‘n vrug of iets dergeliks te kan voorsien.

Ons is opreg so dankbaar teenoor ALBANY vir hulle getroue ondersteuning in hierdie projek. ALBANY voorsien weekliks die vars bruinbrode vir elke week se toebroodjies wat  voorberei word.

Vanaf 2012 is daar ook ‘n  aantal lidmate wat finansieel bydra tot hierdie projek. Hierdie bydraes word aangewend deur gebruik te maak van 'n maatskappy in Springs wat teen ‘n spesiale tarief hamburgers, vleispasteitjies, hot dogs, ensovoorts per geleentheid  aflewer en dan ook ‘n lidmaat wat vir ons teen ‘n spesiale tarief toebroodjies, vrugte en ‘n lekkertjie aflewer.

Lidmate wat hulle harte en beursies oopgemaak het en hulle finansieel tot hierdie projek verbind het, se bydraes wissel vanaf ‘n jaarlikse eenmalige bydrae tot maandelikse bydraes tot kwartaallikse bydraes  d.m.v.  elektroniese oorbetalings of kontantbydraes wat tydens die erediens in die kollektesakkie geplaas word met ‘n nota dat die bedrag vir die skoleprojek inbetaal word.

Omdat lewensomstandighede in ons huidige finansiële klimaat gou kan verander, neem ons nie vanselfsprekend aan dat ‘n bydraer in die daaropvolgende boekjaar outomaties weer bydra tot die skoleprojek nie.

Ons het jou finansiële ondersteuning nodig.

Indien jy  sou belangstel om betrokke te raak en dalk eers net meer inligting wil bekom oor hierdie skoleprojek, kontak Frikka Reyneke, die koördineerder van hierdie projek by 0837994872 of  011 9154872 of voltooi die onderstaande  vorm.

Stuur
© Vir enige navrae kan jy die webmeester kontak by tegnies@dalpark-kaleo.org.za